Maar haar lewe is in 2014 wreed tot ’n einde gebring toe die 37-jarige vrou se gewese kêrel, ’n polisieman, buite haar huis sy dienspistool uitruk en haar 42 keer skiet.

Dit het op dieselfde dag plaasgevind waarop die twee in die hof sou verskyn omdat sy ’n beskermingsbevel teen hom aangevra het.

Dinsdag is Lindani Nakani (38) in die Wes-Kaapse hof lewenslank tronk toe gestuur vir die moord.

Busiswa Centane se suster en ander familielede was in die hof toe Lindani se vonnis opgelê is. Hulle is verlig dat die reg sy gang gegaan het.

“Sy het ons vertel (van die mishandeling) of ons gebel as daar probleme was,” het Nomvuyo gesê. Sy was teenwoordig toe Nakani vir Busiswa gevloek het.

Regter Nolwazi Boqwana het haar sterk uitgespreek oor huishoudelike geweld en dit ’n “plaag” genoem wat nie ligweg hanteer moet word nie.

Sy sê Nakani was ’n polisieman wat ’n hofbevel verontagsaam het, die moord beplan het en al die koeëls in die magasyn gebruik het.

“Hy het die teenoorgestelde gedoen van wat hy aangesê was om te doen.”

“Dit grens aan ’n misdaad van weerwraak eerder as een van passie,” het sy voorts gesê.

Volgens Nakani was dit die laaste strooi toe hy uitgevind het hy moes sy dienspistool inhandig as deel van die beskermingsbevel.

Alhoewel die regter aangedui het dat sy daarvan bewus is dat Nakani nog jonk is en dat sy jong kinders sonder ’n pa moet grootword, kon sy nie voldoende en oortuigende omstandighede vind om hom ’n ander straf in die plek van lewenslank te vonnis nie.

Bron: news24.com