Alwyn Wilken, wat al 29 jaar in die polisiediens is, het die sentrum genoem na Danté Chan, ’n 13-jarige seun en die kind van sy bure, wat vermoor is.

Danté is op 31 Julie 2012 meermale by sy huis met ’n steakmes in die bors gesteek – 30 dae nadat Alwyn die sentrum geopen het.

“Sowat ’n maand voor Dante dood is, het die Here my ’n roeping gegee.” Kort daarna is Danté dood. Destyds is ’n derdejaarstudent weens die moord in hegtenis geneem.

Alwyn is tans besig met sy finalejaarstudie in teologie. “Die Here lei ’n mens eers deur ’n leerskool. As kind was my ouers albei alkoholiste en het ons baie swaar gekry; ek wéét waardeur hierdie mense gaan,” sê Alwyn.

“Danté se dood het my diep geraak. My seun, Durandt (18), en Danté, wat ook nou 18 sou geword het, was soos bloedbroers,” sê Alwyn.

Hy onthou hoe hulle destyds die aand gery het om Durandt se skoolrapport te gaan haal, toe hulle by die toneel verbyry.

Die Danté Chan Christian Centre het begin in ’n klein winkel wat Alwyn in die Bequerrel-winkelsentrum op die dorp gehuur het. Hy het ’n sopkombuis en klerebank vandaar bedryf.

Alwyn sê die sentrum is geleë in die ou “Porradorp”, wat berug is vir dwelms, drank, prostitusie, misdaad en armoede. Maar sedert die opening het die sentrum blitsvinnig gegroei en het sedertdien na ’n groter perseel op die dorp verskuif.

By die sopkombuis kry tot 300 mense per dag kos. Klere word aan hulpbehoewendes uitgedeel.

’n Ondersteuningsgroep, die Pearly Ladies, wat individue en ouers bystaan wat probleme met gesinslede of kinders ervaar, vorm deel van die opset. “Mense wat verslaaf is aan dwelms en drank word verwys en in rehabilitasiesentrums geplaas.”

Op Sondae word kerkdienste in Afrikaans, Engels en Frans gehou. Een keer per maand word fliekaande vir haweloses gehou.

Een van Alwyn se drome is om die sentrum uit te brei, maar daarvoor is geld vir ’n groter gebou nodig.

“Op die oomblik huur ek ’n klein winkel, wat deur twee vroue bestuur word. Ons maandelikse uitgawes is sowat R5 500. Die sentrum, wat geregistreer is as ’n maatskappy sonder winsbejag, maak op donasies staat om oop te bly,” sê Alwyn.

Sommige maande moet Alwyn van sy salaris gebruik om die sentrum se deure oop te hou. ’n Droom is om R3 miljoen in te samel om ’n groter gebou te koop.

Vir nog besonderhede oor die sentrum, bel Alwyn by 074-171-6503.