Die lyk van ’n Krugersdorpse polisiesersant is Dinsdag (21 Maart) in die landdroshofgebou op die dorp aangetref. ’n Sekuriteitswag het omstreeks 14:30 afgekom op sy liggaam wat in die gang by die hofselle hang.

Volgens ’n betroubare bron het die sersant glo verlede Desember (2016) in ’n selfdoodpoging by die venster van sy blyplek in die polisiekwartiere uitgespring.

“Die Krugersdorpse polisiekantoor is gebroke oor die hartseer nuus van een van hul lede,” het sersant Tshepiso Mashale, woordvoerder van die Krugersdorpse polisiekantoor, aan Huisgenoot gesê.

“Ons innige meegevoel gaan uit na die sersant se familie, vriende en kollegas,” het brigadier Patrick Baloyi, stasiebevelvoerder, in ’n verklaring gesê.

’n Geregtelike doodsondersoek word gedoen.