Mike, wat vir die Valke werk, het die afgelope vyf jaar na Zephany (nou 17) gesoek. Die uitslae van die bevestigende DNS-toetse was vir hom net ’n formaliteit, het hy luidens die berig in vandag se koerant vertel. Hy het dadelik geweet dit is sy nadat hy haar op die namiddag van 24 Februarie ontmoet het. “Ek was baie bly vir die ouers dat hul kind gevind is.”

Zephany is opgespoor nadat haar biologiese ouers se tweede oudste dogter, wat vier jaar ná Zephany se verdwyning gebore is, vanjaar by ’n skool in Kaapstad met gr. 8 begin het.

Haar klasmaats het gedurig vir haar gesê ’n meisie in matriek lyk net soos sy. Die twee meisies het vriende geword en op die ou end het die jonger meisie se pa gesê hy wil sy dogter se nuwe vriendin ontmoet.

Die ooreenkoms tussen die twee meisies was so merkwaardig dat die pa die polisie genader het. Die ouer meisie se ouers kon nie vir hul enige rekord van haar geboorte wys nie.

Die Valke het toestemming gekry om die betrokkenes se DNS te toets en dit het Zephany se identiteit as die vermiste meisie bevestig. Zephany se grootwordma is van onder meer ontvoering en verskyn Vrydag weer in die hof. SAPA

- Sapa