’n Polisiekonstabel van Bronkhorstspruit het sy meisie en ’n eksmeisie doodgeskiet voor hy die vuurwapen op homself gerig het, het die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) Vrydag gesê.

Die beampte se 23-jarige eksmeisie het Donderdag oor die middaguur by haar vriend gaan kuier wat toevallig langs die konstabel woon, sê die woordvoerder Robbie Raburabu.

Lees ook: Ooggetuies beskryf hoe voortvlugtige pa vasgetrek is ná 6 maande oue baba sterf

Die eks het toe gehoor die beampte het ’n nuwe meisie, ’n 18-jarige. Sy is na die konstabel se huis toe en het na die bure teruggekeer.

“Die bure het die konstabel en sy meisie kort daarna hoor rusie maak en toe gaan ’n skoot af,” sê hy.

Die persoon langsaan en die eksmeisie het hulle daarheen gehaas om te kyk wat gebeur het. Die konstabel het die deur oopgemaak, sy eksmeisie gegryp en haar in die bors geskiet. Die koeël is by haar rug uit.

Hy het homself toe in die kop geskiet. Sy dienspistool is in sy hand gevind.

Al drie is op die toneel dood.

Bron: News24