Die metropolisiebeamptes wat na bewering gedreig het om ’n driejarige meisie te skiet, is Dinsdag in hegtenis geneem, het die Justice Project SA (JPSA) en Crime Line in ’n gesamentlike verklaring gesê.

“Die beamptes se beweerde misdaad word in ’n baie ernstige lig beskou en moet so hanteer word,” lui die verklaring. The Star het Dinsdag berig een van die beamptes het sy vuurwapen se veiligheidsknip afgehaal, sy stem verhef en vir die kind gesê: “Ek gaan jou skiet as jy nie stilbly nie.” Sy het begin huil toe die beampte omkoopgeld by haar ma eis nadat sy vir hom gesê het sy het nie ’n rybewys nie.

'En toe vra hy my watter plan ons kan maak vir koeldrankgeld.'

“Hy my genader en my lisensie gevra. Ek was eerlik met hom en het gesê ek het nie een nie,” het die vrou aan die koerant vertel.

“En toe vra hy my watter plan ons kan maak vir koeldrankgeld.”

Luidens die berig het die beampte sowat R80 tot R90 se kleingeld uit die motor se asbak geneem toe die vrou sê sy het nie geld nie. Die vrou het weggery, haar ouers van die voorval vertel en toe saam met haar pa na die toneel teruggekeer.

Toe die beamptes die vrou se kar sien, het hulle aanvanklik weggery. Die vrou en haar pa het hulle agtervolg en hulle het later uit die motor geklim.

Toe hy oor die voorval uitgevra word, het die beampte erken hy het die kind gedreig en gesê hy het dit gedoen om haar stil te kry. Die organisasies het motoriste gevra om nie omkoopgeld aan polisiebeamptes te betaal nie en om enige beampte wat omkoopgeld soek, aan te meld.

“Howe moet wetstoepassers wat skuldig bevind word aan afpersing en/of korrupsie, swaar straf. Dieselfde geld vir motoriste wat dink dis in die haak om verkeersbeamptes om te koop.”

Howard Dembovsky, voorsitter van die JPSA, het gesê “dringende ingrypings” is nodig om korrupte metropolisiebeamptes vas te trek. “Ons is uiters bekommerd. Ons kort beslissende optrede deur munisipaliteite en wetstoepassingsagentskappe.”

Yusuf Abramjee, hoof van Crime Line, het die polisie geloof vir hul vinnige optrede met die beamptes se inhegtenisneming. “Ons moet die korrupte metropolisiebeamptes agter tralies kry,” het hy gesê. “Ons doen op ’n beroep op die publiek om dié polisielede te help aankeer.”

- Sapa