Die 48-jarige man, wie se naam weerhou word totdat sy familie in kennis gestel is, is die oggend op dagparool vrygelaat toe die skietery in Silverbushsingel plaasgevind.

Volgens kapt. Joep Joubert, plaaslike polisiewoordvoerder, het die man se vriend hom om 07:00 by die Boksburg-gevangenis in ’n wit Toyota Corolla gaan haal.

“Die vriend het uitgeklim om die hek oop te maak toe die aanvallers toeslaan.”

Die man is in die passasiersitpek in die buurt Dalpark doodgeskiet.

Kapt. Joep het bevestig ’n uitgebrande Renault, wat blou of groen in kleur was, waarskynlik die van die skieters is ’n paar strate verder verlate gevind.

Joep sê volgens ’n ooggetuie was daar twee aanvallers in die Renault en was hulle in polisieuniform geklee. Die moontlikheid bestaan dat hulle dalk nie werklik polisielede was nie, maar hulself as polisiebeamptes voorgedoen het.

Daar is 18 patroondoppies op die moordtoneel gekry, het die Brakpan Herald berig. Dit sluit agt van ’n R5-geweer en tien van ’n 9mm-pistool in.

Joep sê die slagoffer is tot 19 jaar vir moord vir ’n saak in Durban gevonnis en het sowat 18 jaar uitgedien. Hy was sowat ’n maand lank al op dagparool uit, wat beteken hy slaap snags in die gevangenis en word bedags vrygelaat.

Huisgenoot het vertroulik verneem alles dui op ’n sluipmoord.

Niemand is nog in verband met die voorval hegtenis geneem nie.

Ekstra bron: brakpanherald.co.za