Die oorblyfsels is waarskynlik dié van die hengelaar Medison Malasha (40) van Beatrice, volgens die onafhanklike dagblad Newsday.

Hy het Vrydag in ’n dam op die plaas Houmead naby die dorp vermis geraak.

’n Vriend van Medison het ’n binneband, soos dié wat plaaslike inwoners gebruik om op te dryf, in die dam sien dobber.

’n Rukkie later het hy ’n krokodil ’n visnet sien sleep met Medison se skoen daarin.

Polisiebeamptes en staatswildbewaarders is in kennis gestel en die krokodil is van kant gemaak. Menslike oorskot is in die reptiel se pens gekry en Medison se voet en bobeen afsonderlik uit die dam gehaal, luidens die berig in Newsday.

Krokodilaanvalle is ’n voortdurende gevaar vir hengelaars in laerliggende damme, terwyl riviere wat afkom kan veroorsaak dat krokodille verskuif na plekke waar hulle nie normaalweg voorkom nie. Dis nie bekend hoe dié krokodil in die plaasdam beland het nie.

In Januarie is ’n 47-jarige man aangeval en ernstig beseer terwyl hy in die Pambe-dam in die distrik Mwenezi in die suide van Zimbabwe gehengel het.

Bron: News24