Aanvanklike gerugte van ’n bomdreigement in Randburg het tot iets skokkender gelei: die vonds van ’n groot aantal vuurwapens en plofstof in ’n onbenutte stoorruimte in Doverstraat.

Polisiewoordvoerder Mavela Masondo het gesê bom- en die honde-eenheid het mortierbomme, handgranate, gewere, 16 pistole en 11 rewolwers in ’n keldervertrek gevind. Daar is benewens die minstens 60 mortiere en 4 handgranate ’n selfdoodbaadjie asook R5- en sewe AK-47-gewere gevind. In een van die ander vertrekke is daar ook bomme en “heelwat ammunisie” gevind.

Die polisie is na die toneel ontbied nadat werkers wat besig was om die gebou te restoreer, ’n verdagte sak gewaar het. Dit het glo plofstof bevat.

Dit is in hierdie stadium onseker hoe lank die vuurwapens en plofstof op die toneel was, maar dit kan dalk reeds vir ’n geruime tyd wees vanweë roes wat op van die wapens is.

Die polisie sal die vorige eienaar van die eiendom probeer opspoor.