Amerikaanse polisie het ’n ring van sowat R30 000 verhaal ná dit gesluk is tydens ’n mislukte diefstalpoging in ’n juwelierswinkel.

Ronald Perley (52), wat van diefstal aangekla is nadat X-strale gewys het die ring lê in sy maag, het die winkel in Manchester, New Hampshire, binnegegaan om glo na verloofringe te kyk.

Volgens die winkel se werknemers het Perley na ’n ring gekyk en dit toe aan die verkoopspersoon teruggegee. Toe hy ’n tweede ring in sy hand het, het hy na die deur gehardloop, maar dit was gesluit.

Die werknemers sê toe hulle hom oor die ring konfronteer, het hy sy hand na sy mond gebring en die ring gesluk.

Perley het eers aangedring dat hy niks verkeerd gedoen het nie en ingestem om deursoek te word. Die ring is nie onmiddellik gekry nie, maar X-strale by die plaaslike hospitaal het gewys waar die ring lê.

Sy daad is ook op die winkel se kringtelevisie vasgevang.

- Bang Showbiz