Inligting wat aan die polisie se K9-hondeeenheid verskaf is, het daartoe gelei dat ’n 57-jarige man Dinsdag in die Wes-Kaap in besit van 2 077 kreefsterte vasgetrek is.

Die Corsa-bakkie is omstreeks halfsewe Dinsdagoggend op die N2 by Sir Lowryspas op pad van Hermanus na Kaapstad van die pad afgetrek.

Die polisie het talle sakke met Weskus-kreefsterte met ’n straatwaarde van R40 000 daarin gevind. Die sakke is onder ’n duvet versteek.

Die man, afkomstig van Mitchells Plain, is in hegtenis geneem en by die Gordonsbaaise polisiekantoor aangehou. Daar is ook op die bakkie beslag gelê.

Hy sal na bewering aangekla word van die besit en vervoer van Weskus-kreef sonder ’n permit.

Dieselfde honde-eenheid het kort voor halftwaalf dieselfde dag nog vermeende kreefsmokkelaars in hul voetspore gestuit. Drie mans van Botrivier, onderskeidelik 22, 37 en 51 jaar oud, het skrootmetaal op ’n Kia-afleweringsbakkie vervoer. Maar die skrootmetaal was bloot daar vir oëverblindery.

Nie minder nie as 223 krewe met ’n geraamde straatwaarde van R7 000 is onder die skroot gevind. Daar is op die bakkie beslag gelê. Die drietal sal Woensdag in die Strandse landdroshof verskyn op aanklagte van die oortreding van die Wet op Lewende Mariene Bronne.

Wat gebeur met die kreef nadat dit gevind is?

In gevalle soos dié waar die polisie beslag lê op kreef of perlemoen, word dit in die betrokke polisiestasie se rekords opgeteken waarna dit so gou moontlik aan ’n verteenwoordiger van die Departement van Visserye oorhandig word. Die SAPD mag nie hierdie bewysstukke stoor nie.

Bron: SA Polisiediens