. Hy het een mens noodlottig gewond voor ’n student hom met pepersproei bedwing het terwyl hy die geweer probeer herlaai het, het die polisie gesê.

’n Student by die Seattle Pacific-universiteit het die skieter ontwapen nadat hy die Otto Miller-saal binnegekom het. Verskeie studente het hom bespring en bedwing tot polisiebeamptes opgedaag het, het die polisie gesê.

’n 19-jarige man is in die Harborview mediese sentrum oorlede en drie ander is in die hospitaal opgeneem. ’n Kritiek beseerde 20-jarige vrou is geopereer, het die hospitaal se woordvoerder, Susan Gregg, gesê. Twee mans (onderskeidelik 24 en 22) is in ’n bevredigende toestand. Volgens Susan is een van die twee mans nie geskiet nie.

Aanvanklik is geen slagoffers van die voorval Donderdag geïdentifiseer nie.

Tydens ’n nuuskonferensie Donderdag het die assistentpolisiehoof Paul McDonagh gesê die verdagte in aanhouding is ’n wit man van soat 26 jaar en nie ’n student nie. Hy het gesê die man se naam gaan nie bekengemaak word nie tot hy vir moord in hegtenis geneem gaan word.

Die skietvoorval het ’n week voor die einde van die akademiese jaar plaasgevind, en die situasie was gespanne toe die polisie aanvanklik berig het dat hulle ’n tweede verdagte soek. Hulle het later gesê daar was net een skieter.

Die universiteit het die kampus etlike ure gesluit, en het studente en personeel aangeraai om binnenshuis te bly. Party studente was besig met ’n finale eksamen in die gebou wat die skieter binnegekom het.

“Ons is ’n gemeenskap wat op Christus steun vir krag, en ons gaan dit nou nodig hê,” het Daniel Martin, die universiteit se kanselier gesê.

Mense het Donderdagaand na die First Free Methodist Church gestroom vir ’n kerkdiens. Die kerk was so vol dat mense op ’n grasperk naby die kerk bymekaargekom het.

Die privaat Christelike universiteit het sowat 4 270 studente. Die kampus is geleë in ’n boomryke woongebied naby Seattle se stadskern. Klasse en ander aktiwiteite is Vrydag gekanselleer.

Jillian Smith wa besig met ’n wiskundetoets op die eerste verdieping van die Otto Miller-saal toe die gebou gesluit word.

Sy het polisiebeamptes in die gang hoor skree en op deure hamer. Die dosent het die klas se deur gesluit en die sowat 20 studente het op die grond voor in die klas gaan sit.

“Ons het nie geweet wat aangaan nie,” het Jillian (20), ’n tweedejaarstudent, gesê. “Mense het teksboodskappe aan familie en vriende gestuur om uit te vind of almal oukei is.”

Die polisie het hulle sowat ’n driekwartuur later kom haal en twee-twee uit die gebou vergesel, het sy gesê. Hulle het die koeëldoppe en bloedspatsels in die voorportaal gesien.

“Die bloed het die werklikheid tuisgebring,” het Jillian gesê. “Ek het nie gedink daar sou hier so iets gebeur nie.”

Ashley Springer (26) was in ’n klaskamer saam met ’n dosent en nog ’n paar studente toe ’n vrou met ’n megafoon inkom en hulle sê om die deur te sluit, die blindings toe te trek en die ligte af te sit.

Ashley, ’n finalejaarstudent, beskryf die universiteit as ’n hegte gemeenskap.

Daar was onlangs by ander kampusse ook gevalle van vuurwapengeweld.

  • Verlede maand het Elliot Rodger ses mense doodgeskiet en sewe ander beseer voor hy selfmoord gepleeg het. Dit het plaasgevind in Isla Vista, Kalifornië, naby twee universiteite.
  • Sewe mense is dood en drie beseer toe ’n 43-jarige oudstudent in 2012 losbrand by ’n klein Christelike universiteit, die universiteit van Oikos in Oakland, Kalifornië. Vyf mense is dood en 18 beseer toe ’n man in 2008 in ’n lesingsaal by ’n universiteit in die noorde van Illinois losbrand.
  • In 2007 is 32 mense noodlottig gewond by Virginia Tech in Blacksburg, Virginia, voor die skieter selfmoord gepleeg het.

Seattle se burgemeester, Ed Murray, met vorige skietvoorvalle in die stad in gedagte, het gesê: “Weereens ervaar Seattle ’n epidemie van vuurwapengeweld.”

-SAPA