Volgens sers. Noloyiso Rwexana, polisiewoordvoerder, het die vrou die fetusse verlede Vrydagaand gevind.

“Niemand is nog aangekeer nie,” het hy bevestig. Sadia Gamat Coetzee het laat Vrydagaand ’n foto in die sosiale media gedeel van die fetusse wat sy gekry het.

“Ek het by die huis gekom en dít in die straat gevind,” het sy by die foto geskryf. “Ek is jammer, maar dit is net verkeerd.”

Sy het ook genoem dat ’n buurman glo gesien het hoe ’n onbekende persoon in die verbyry "iets" by ’n motorvenster uitgooi.

“Maar hulle het nooit gaan kyk wat dit was nie. Toe ek by die huis kom, het ek gedink iemand het vleis uitgegooi. My broer het gesê dit is babatjies. Ek het hom nie geglo nie tot ek uit die kar geklim en die polisie gebel het.”

Die polisie vra dat enigiemand met meer inligting wat die ondersoek kan help die Goodwood-polisiekantoor bel by 021-592 4430. Mense kan ook Crime Stop bel by 08600 10111.