Herman “Thabo” van Straten, wat Saterdag tydens die Midmar-myl vermis geraak het, se verloofde het organiseerders gekritiseer en gesê sy is nie behoorlik te hulp gesnel nie, het die koerant The Star Dinsdag berig.

Shane Jones sê sy is van “bakboord na stuurboord gestuur” toe sy Herman as vermis probeer aanmeld het. Sy sê die organiseerders het voortgegaan met die volgende swemnommer nadat hy vermis geraak het.

Maar lt. Jack Haskins van die polisie se soek-en-reddingseenheid het gesê organiseerders het beperkings op die daaropvolgende swemresies geplaas en niemand jonger as 13 is toegelaat om deel te neem nie.

Shane sê sy en Herman se familie sukkel om sy verdwyning te verwerk. “Dit voel onwerklik. Ek probeer myself wysmaak dat hy iewers in ’n hospitaal is,” het sy aan die koerant gesê.

Sy het gesê Herman was “uiters fiks” en het drie keer per week geswem. Wayne Ridden, die resiesdirekteur, het glo sy simpatie aan die Van Straten-familie betoon. Herman (43) is Saterdag as vermis aangemeld toe hy nie die swemresies voltooi het nie.

Die polisie het Maandag gesê hul soektog na hom duur voort.

– SAPA