Christy Sheats (42) van ’n rustige voorstad naby Houston, Amerika lyk op die oog af na ’n pragtige, goedversorgde jong vrou. Sy was die bestuurder van Clean Canvas Laser, ’n maatskappy wat tatoeermerke met laser verwyder het.

Sy en haar man,Jason, het twee dogters gehad: Taylor (22) en Madison (17).
Jason en Christy het onlangs weer versoen geraak nadat hulle vir ’n tyd uiteen was. Vrydag, 24 Junie, was sy verjaardag. Dit was op hierdie dag dat sake afgryslik skeefgeloop vir die gesin. Volgens ’n ooggetuie het die twee dogters met hul pa van die huis probeer vlug. Met Christy en ’n vuurwapen in haar hand agterna.

’n Vloed van noodoproepe na 911 het gevolg, maar dit was te laat vir Taylor en Madison.

Een van die meisies se klasmaats, Austin Emke, het aanvanklik gedink dis vuurwerk wat afgaan. Hy het die voorval as absoluut gek bestempel omdat daar nog nooit vantevore so iets in die buurt plaasgevind het nie.

Jason het na wat berig word ook vergeefs by Christy gepleit om hul dogters se lewe te spaar. Sy het skote op haar dogters afgevuur en hul bebloede liggame het in die straat gelê.

Volgens ’n ooggetuie het Christy nadat die eerste sarsie skote afgevuur is, die huis binngegegaan en weer herlaai. Sy het glo daarna geweier om gehoor te gee aan die polisie se versoek om haar vuurwapen te laat val. Dit wou glo voorkom asof sy van plan was om nog skote op Madison te vuur. In reaksie daarop het ’n polisieman verbonde aan die Fort Bend-polisiekantoor haar doodgeskiet. Taylor en haar ma is op die toneel dood verklaar, terwyl Madison Vrydagaand in die hospitaal oorlede is.

Jason is nie in die voorval beseer nie, maar is in die hospitaal opgeneem vir waarneming. Hy het die brutale moord van sy dogters en die dood van sy vrou aanskou.

Verstomde bure en vriende kon net in ongeloof hul koppe skud.

’n Buurman, Fazz Zainuddin het gesê dis baie hartseer om te weet dit het met ’n goeie gesin gebeur.

“Dit is nie die Christy wat ek ken nie. Net glad nie,” het ’n vriendin Catherine Knowles aan KTRK gesê.

“Ek het gedink dit is die verkeerde persoon. Dit moes wees.

“Wanneer jy haar ontmoet, weet jy binne die eerste minuut reeds dat sy ’n ma is,” het Catherine gesê.

Was dit bloot ’n gewone gesinsrusie wat handuit geruk het of is die gissinge rondom Christy se geestesgesondheid nader aan die kol? Vrydag was glo nie die eerste keer dat die polisie na die netjiese huis met sy piekfyn grasperk ontbied is nie.

Tot dusver kan daar net gegis word oor wat tot hierdie tragedie aanleiding kon gee.

Hierdie Bybelvers is een van Christy se mees onlangse Facebook-inskrywings:

Christy was ook ’n pro-vuurwapen aktivis en het hierdie inskrywing in Januarie op haar Facebook-blad gedeel.

Bronne: heavy.com, facebook.com, washingtonpost.com, dailymail.co.uk, everipedia.com, abc13.com