In die video sien jy die man met die hond wat voor hom op die bromponie sit. Dit lyk asof die hond die Honda Dream vir ongeveer 'n halfminuut bestuur, terwyl die man aanhoudend die hond aanmoedig.

"Dit is ongelooflik dat so iets in die stad kan gebeur,” het 'n gebruiker van Facebook opgemerk. “Sy optrede is uiters gevaarlik; hy stel nie net sy eie lewe en dié van ander mense in gevaar nie, maar ook dié van sy hond."

Daar is 83 000 keer op een Facebook-bladsy na die greep gekyk.

Die verkeersafdeling het 'n bevel uitgereik dat mense op die uitkyk moet wees vir die man, het 'n beampte van die afdeling aan dpa gesê, op voorwaarde dat hy nie geïdentifiseer word nie.

"Die optrede verdien skerp kritiek en ernstige straf,” het Nguyen Van Quy, 'n beampte van die verkeerspolisie, aan die koerant Thanh Nien gesê,

“As hy gevang word, sal die man met tot $320 beboet word omdat hy 'n bromponie ‘met albei hande los’ bestuur het,” het Quy gesê.

Sy rybewys sal ook vir twee maande ingetrek word en sy bromponie sal vir 'n week geskut word.

Die man het ook nie 'n motorfietshelm opgehad nie en die boete daarvoor is $10.

Daar was geen onmiddellike reaksie op die vraag of die hond ook beboet sou word nie.

DPA