“Daar is nog geen nuwe verwikkelinge nie,” sê lt. kol. André Traut, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder.

Idali van Zyl (39) is Donderdagoggend dood aangetref op die toilet in haar en haar man, Freddie (38), se huis in Bredasdorp.

Freddie is met bebloede klere en ’n oop wond aan sy skouer, waarvoor hy 20 steke moes ontvang, by die huis aangetref.

Hy het in ’n onderhoud met Netwerk24 gesê hy en Idali het Woensdagaand besluit om elkeen sowat 4 ml van die dwelm “Liquid G” te gebruik.

Freddie hou vol hy kan niks van die aand se gebeure onthou nie.

Die polisie het ook aan Eyewitness News gesê dat die oorsaak van Idali se dood nog vasgestel moet word.