’n Maleisiese bank-werknemer word ondersoekv weens onttrekkings van meer as R340 000 [31,000 dollars] uit vier rekeninge wat behoort aan slagoffers van die Malaysia Airlines vlug MH370-tragedie, het polisie Vrydag gesê.

Izany Abdul Ghany, die polisiehoof van die departement wat kommersiële misdaad ondersoek, het gesê ’n bankbestuurder het op 2 Augustus die verdagte transaksies aangemeld.

Gegrond op ’n aanvanklike ondersoek is geld van drie van die MH370-passasiers se rekening na ’n vierde rekening oorgeplaas, wat ook aan ’n passasier behoort, het Izany gesê.

Verskeie onttrekkings is uit die vierde rekening by OTM’e gemaak. Al vier rekeninge is by dieselfde bank.

’n Ander polisiebron het gesê ’n 32-jarige bankwerknemer word ondersoek vir moontlike betrokkenheid by die misdaad omdat hy die een was wat die hernuwing van die bankkaart goedgekeur het waarmee die geld uit die vierde rekening onttrek is.

“Dit blyk iemand by die bank is betrokke,” het die bron gesê. “Dit is ’n kwessie van tyd voor ons die waarheid ontdek.”

Die vliegtuig was op 9 Maart onderweg na Beijing van Kuala Lumpur toe dit onverklaarbaar verdwyn.

Bron: Sapa-dpa/mr