Eskom het Woensdag in ’n verklaring gesê ’n hommeltuig het in die Koebergkragstasie-terrein neergestort en die maatskappy het sy veiligheidsbeampte geskors.

Die ongeluk het verlede week laat op die Koeberg-eiendom gebeur, maar in ’n gebied “baie ver weg van die kerninstallasie”, het Khulu Phasiwe, Eskom-woordvoerder, aan Fin24 gesê.

“Ingevolge die reëls van die nasionale kernreguleerder moet ons enigiets buitengewoons rapporteer wat op daardie terrein gebeur,” het Khulu telefonies aan Fin24 gesê.

“En hierdie ding wat oor ons stasie gevlieg het, was nie gewoon nie, dus moes dit aangeteken gewees het sodat ons kan kyk watter maatreëls nodig is teen sulke voorvalle.”

Dis protokol vir Eskom om verslag te gee oor enigiets wat by sy kragstasies gebeur en die Koeberg-kernkragstasie het selfs strenger vereistes. Maar toe die hommeltuig verlede week op die Koeberg-eiendom land, het Eskom-personeel die vliegtoestel aan sy eienaars oorhandig, sê Khulu.

“Hulle (Eskom-personeel) het moontlik gedink dis net ’n geringe saak. En dalk was dit, maar ons weet nie. Die polisie ondersoek die saak om te kyk wat skeefgeloop het en wat gedoen kan word om te verseker so iets gebeur nie in die toekoms nie.”

Die voorval kom nadat Suid-Afrika verlede jaar in Julie hommeltuig-regulasies ingestel het. Dié regulasies maak voorsiening vir ’n wye verskeidenheid kommersiële hommeltuig-bedrywighede wat wissel van verfilming, mynbou en sekuriteit tot soek-en-reddingsdoeleindes.

Hommeltuigvlieëniers moet egter ten volle gelisensieer wees om dit kommersieel te bedryf.

Lisensies is egter nie nodig vir hommeltuie wat privaat gebruik of as stokperdjie gevlieg word nie, maar mag nie gevlieg word binne 50 m van mense, geboue of paaie nie, volgens die plaaslike hommeltuigoperateurs Drone Crew.

Hommeltuie vir privaat gebruik word ook nie binne 10 km van geregistreerde lughawens toegelaat nie, sê hulle.

Bron: Fin24