hoender

In die foto’s word ’n brandende sigaret in die hoender snawel gedruk tydens die Helshoogte-koshuis se “hoenderdag” wat Saterdag gehou is.

Die Dierewelsynvereniging (DVW) van Stellenbosch het gesê hulle het ’n klag gelê by die polisie in die dorp en dat die saak ondersoek word.

“Ons inspekteur sal met hom in kontak wees en die nodige bewyse bied om die beskuldige te vervolg,” het Jessica Perrins, woordvoerder vir die vereniging gesê.

Die organisasie het ’n wenk oor die man se identiteit ontvang, maar het hom nog nie gekontak nie. Die Wes-Kaapse polisiewoordvoerder sers. Noloyiso Rwexana het bevestig dat ’n saak geopen is.

Diereregteaktiviste en lede van die publiek was woedend nadat ’n video en foto’s van die hoender aanlyn opgeduik het.

Meeste mense het hulle na die koshuis se Facebookblad gewend waar hulle die gedrag veroordeel het.

Die koshuis het dieselfde dag hul teen dieremishandeling uitgespreek, en gesê die skuldige party het nie enige bande met hulle nie. Die universiteit het bevestig die man het nie bande met die koshuis nie en dat hy nie ’n student of oudstudent is nie.

Martin Viljoen, woordvoerder van die Universiteit Stellenbosch, het gesê die instelling veroordeel dierewreedheid en ondersoek die voorval.

“Hoenderdag is ’n viering van musiek en dans met kosstalletjies,” sê Martin.

Die naam kom van die koshuis-embleem wat ’n hoender bevat en wat deur inwoners as ’n gerespekteerde simbool beskou word.

“Daar is egter nie hoenders by die dag betrokke nie,” sê hy.

Die geleentheid het op die koshuisperseel plaasgevind en was oop vir enigeen wat toegangsgeld van R30 betaal het.

Jessica het gesê die vereniging vermoed die individu het die hoender na die geleentheid gebring.

“Dit bewys die beweerde oortreder het dit voorafbeplan. Hoekom anders sou enigeen ’n lewende hoender na die geleentheid bring?”

Sy sê die man het verskeie seksies van die Dierebeskermingswet oortree met die optrede waartydens hy “die hoender mishandel, vreesbevange gemaak en gemartel het. En hy’t die voël op so ’n manier bevry dat dit die hoender in onmiddellike gevaar gestel het. Dis hoogs waarskynlik dat hy die hoender op ’n wrede wyse rondgedra en aangehou het”.

Sy het hierdie gedrag op die universiteitsperseel veroordeel.

Martin sê alles dui daarop dat dit ’n geïsoleerde voorval was. Die universiteit het nie enige ander soortgelyke klagtes ontvang nie.

Die hoender is nou glo “veilig, gelukkig en tussen ander hoenders”.

Bron: News24