Die polisie ondersoek bewerings dat Nico Nel sy suster se geld wanbestuur het.

Die ondersoek spruit voort uit ’n bevinding van Old Mutual ná ’n maande lange ondersoek na die storieverteller en televisieaanbieder.

Jaco van der Merwe, uitvoerende hoofbestuurder van Old Mutual Personal Financial Advice, het Vrydag in ’n verklaring gesê Old Mutual het die bevindings van die ondersoek aan die kliënte, onder wie ’n familielid van Nico, verduidelik.

Nico was van Maart 2012 tot sy aftrede in Oktober 2015 finansiële adviseur by Old Mutual. Dit het verlede jaar aan die lig gekom dat Nico verskeie mense geld skuld.

“Old Mutual het klagtes van drie kliënte, insluitend ’n familielid, ontvang. Die totale bedrag van kliënte-eise wat Old Mutual in verband met mnr. Nel ondersoek het, was minder as R3 miljoen,” sê Jaco.

“Die ondersoek na twee kliënte wat in Julie 2016 hul klagte aan ons gerig het, is reeds verlede jaar afgehandel.

Daar is bevind dat Old Mutual nie aanspreeklik gehou kan word vir enige moontlike verliese wat die betrokke kliënte gely het nie. Dit is reeds so aan hulle verduidelik en deur hulle aanvaar,” sê Jaco.

Die ondersoek na die destydse belegging van Nico se suster, Klaradyn Augustyn, is ook afgehandel, het Jaco bevestig.

“Daar is in die ondersoek bevind dat daar ’n wanaanwending was van die familielid se fondse wat aan Old Mutual toegesê moes word ten tyde van mnr. Nel se dienstermyn by Old Mutual,” sê Jaco.

Volgens hom is ’n vertroulike skikkingsooreenkoms met Klaradyn bereik. Hy sê ook Nico is by die Suid-Afrikaanse Polisiediens en Raad op Finansiële Dienste aangemeld sodat hulle die saak verder kan ondersoek.

Lt.kol. Andrè Traut het bevestig dat ’n klag by die Pinelands-polisiekantoor aanhangig gemaak is en dat dit na Worcester oorgeplaas is. ’n Saak van bedrog word ondersoek, het Andrè gesê.

“Niemand is nog in hegtenis geneem nie,” het hy gesê.

’n Regsverteenwoordiger van Nico het aan Huisgenoot gesê Nico neem kennis van Old Mutual se bevindings. “Hy gaan in dié stadium geen verdere kommentaar lewer nie.”