HY HET geweet hy is onregmatig in hegtenis geneem nadat hy deur ’n rooi verkeerslig gery het. Daarom was Jack Coetzee vol vertroue dat hy sy saak teen die nasionale polisiekommissaris en minister van veiligheid en sekuriteit sou wen.

Wat hy nie geweet het nie, is dat die regter al self siek en sat is vir polisie- en metropolisiemanne wat mense links en regs in hegtenis neem sonder om hulle aan die wetlike vereistes te steur. Jack se saak was trouens die derde in sy soort wat regter Roelof du Plessis daardie dag moes aanhoor.

Toe maak hy ’n waterskeidingsbeslissing dat die mense wat Jack in hegtenis geneem en aangehou het, self sy regskoste moet betaal.

Wanneer die staat in so ’n saak gedagvaar word, is dit gewoonlik die belastingbetalers wat die skadevergoeding moet betaal, terwyl die geregsdienaars wat onverantwoordelik was se sak glad nie geraak word nie.

Maar dié dae is nou verby. Die saak tussen Jack en die polisie en metropolisie gaan binnekort gepubliseer word – dit beteken die meeste ander regters sal dit onder oë kry.

Juis daarom glo Jack se prokureur, Riaan Meyer, dit sal ’n verskil maak. “Hulle weet nou daar is persoonlike gevolge en sal daarom in die toekoms versigtiger optree.”

Die kommissaris van die Pretoria-Wes-polisiekantoor waar Jack, ’n diabeet, ure lank aangehou is sonder enige kos, water of sy medikasie, nog drie polisiebeamptes en ’n metropolisieman moet Riaan nou almal saam sowat R100 000 betaal en ook die staat se regskoste dek.

En hy het hom voorgeneem hy sal elke sent uit hulle terug kry, al moet hy op hul meubels beslag lê. Dit gaan nie

vir hom oor die geld nie, sê hy, maar om die beginsel tuis te bring dat almal die reg het om regverdig deur die polisie behandel te word.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 4 November 2010