Maar die polisie se ondersoek het nou ’n donker skadu oor hul blye herontmoeting gewerp.

Kol. Fanie van Deventer, bevelvoerder van die polisie se eenheid vir vermiste persone, het aan Huisgenoot bevestig die DNS-monsters wat van die vermiste man wat 31 jaar lank weg was, is onbeslis.

Tog sê Desiree Haynes, met wie se DNS die vermiste man s’n vergelyk is: “Die polisie het in my kantoor gestaan en vir my gesê ek en Dennis is broer en suster.”

“Hoekom sal polisielede in uniform na my werkplek kom en vir my sê ons is broer en suster as dit nie so is nie?” sê Desiree.

Volgens Fanie het die polisie vroeër vandag ’n DNS-monster van Rina Smit (77) in Bloemfontein geneem om dít te vergelyk met dié vermiste man, wat die Haynes-familie glo is hul Dennis wat 31 jaar gelede verdwyn het. Desiree het bevestig die polisie het ’n DNS-monster by haar ma geneem.

Desiree (43) is só oortuig Dennis is haar broer dat sy die goeie nuus Dinsdag op die Facebookblad Bring Dennis Home aangekondig het.

Rina Smit en "Dennis". Foto: Huisgenoot

“DNS-uitslag – positief. Desiree Haynes en Dennis is broer en suster,” lui die Facebookplasing.

Ná al die jare het Desiree nooit opgehou soek na haar ouboet nie.

Huisgenoot.com het in Junie ’n storie gepubliseer van die man van Bloemfontein wat in 1986 raaiselagtig verdwyn het nadat hy op pad was na ’n werkonderhoud in Roodepoort.

’n Vrou van Pretoria-Noord het dié storie gesien en op die Ons Gee Om-Facebookblad gedeel. Dié groep het Desiree gekontak rakende ’n hawelose man wat op ’n druppel soos die vermiste Dennis lyk.

Desiree het die man in Pretoria ontmoet en hom ’n week later na haar bejaarde ma in Bloemfontein gevat ondanks die feit dat die resultate van die DNS-toetse wat toe gedoen is, nog nie bekend was nie.

Rina het met die eerste oogopslag gesê dié man is haar seun.

Mense moet ophou met hul vrae

Desiree het Woensdag aan Huisgenoot.com gesê sy glo steeds Dennis is haar broer.

“Hoekom sal polisiebeamptes in uniform na my werkplek kom en vir my sê ons is broer en suster as dit nie so is nie?” sê Desiree.

“Mense moet ophou met hul vrae.”

Dit is nog nie duidelik wanneer die resultate van die nuwe DNS-toets bekend sal wees nie.