Die eerste van die twee ledemate is Vrydag op Gordonsbaai se hoofstrand gevind. Daarna het die lyk van ’n onbekende man by Bikini Beach uitgespoel, berig Netwerk24. Die tweede ledemaat is later op die hoofstrand gevind, het ER24 in ’n verklaring bekend gemaak.

“Daar is nog geen nuwe verwikkelinge nie en die ondersoek duur voort,” het konst. Noloyiso Rwexana, polisiewoordvoerder aan Huisgenoot gesê.

Volgens Noloyiso vra die polisie in Gordonsbaai dat enigiemand met inligting oor die ledemate en/of die lyk, na vore sal kom.

Netwerk24 het verder berig dat die Gordonsbaai-polisiekantoor oorval word met oproepe van mense wie se familielede vermis is.

Enigiemand met inligting word versoek om die Gordonsbaai-polisiekantoor by 021 856 2677 te skakel of Crime Stop te bel by 08600 10111.