Die polisie is slaggereed vir die hofsaak van die moordbeskuldigde en Paralimpiese atleet Oscar Pistorius, het die Gautengse adjunkpolisiekommissaris, genl.maj. Tebello Mosikili, Woensdag gesê.

“Die saak gaan hof toe en alle nodige bewyse om die dossier hof toe te neem, is tot dusver ingewin,” het sy aan verslaggewers in Johannesburg gesê. “Ons het goeie vordering gemaak.”

Sy het gesê ’n taakspan, wat haarself insluit, sal hulle tot die einde van die hofsaak daaraan toewy. “Ons is reg om hof toe te gaan.”

Oscar se saak sal na verwagting van 3 tot 20 Maart in die hooggeregshof in Pretoria aangehoor word. Sy meisie, Reeva Steenkamp, is op 14 Februarie verlede jaar in sy huis in Pretoria doodgeskiet. Met sy borgtogverhoor verlede jaar het Oscar gesê hy het gedink Reeva was ’n indringer.

Daar sal na verwagting altesaam 107 staatsgetuies wees. Onder hulle is Oscar se suster, Aimee, sy oom Arnold, die voormalige ondersoekbeampte, Hilton Botha, en inwoners van die Silver Woods-landgoed in Pretoria, waar Oscar gewoon het.

Mediese kenners, ’n weervoorspeller, paramedici, ballistiese en forensiese kenners sal ook as getuies geroep word. Oscar se eksmeisies Melissa Rom en Samantha Taylor gaan ook getuig.

Daar is verlede maand berig dat Oscar se prokureurs sowat ses maande met verteenwoordigers van Reeva se ouers om ’n skikking onderhandel het.

Albei partye het glo geweier om kommentaar te lewer oor besonderhede, waaronder die bedrag wat oorweeg word, weens die sensitiewe aard van die saak. Reeva het glo haar ouers finansieel ondersteun.

’n TV-kanaal wat heeldag en -nag nuus sal uitsaai oor die eersdaagse moordsaak, sal na verwagting bekendgestel word. The Oscar Pistorius Trial: A Carte Blanche Channel sal op 2 Maart begin uitsaai, die dag voor die ster-atleet se hofsaak begin.

130214HGM001Lees in die Huisgenoot van 13 Februarie meer oor wat jy van Oscar se hofsaak kan verwag.