Maar vir sy familie was dit vir eers belangriker om op sy gedenkdiens te fokus.

Johann (53), ’n voormalige 50/50-aanbieder, is verlede Woensdag (7 Junie) saam met sy beste vriend, Werner “Swazi” Perchtold (73), die eienaar van die wegneemete-restaurant Zebra Inn, in ’n gewapende rooftog doodgeskiet.

“Drie verdagtes is Woensdag (14 Junie) amptelik vir die rooftog en moorde by Zebra Inn in Jeppestown aangekla,” het kapt. Richard Munyai, woordvoerder van die Jeppestown-polisiekantoor, aan Huisgenoot.com bevestig.  

Rudolph Botha, Johann se ouer broer, het Woensdagmiddag gesê die onlangse ontwikkeling in die moordsaak is nie nou hul eerste prioriteit nie. 

“Ons het nog nie eers daaroor (die inhegtenisname van die drie verdagtes) gepraat nie,” het hy op pad na Werner se roudiens vertel. Dié roudiens is Woensdagmiddag by die Edwardian-vereniging in Houghton gehou.

Rudolph het gesê die familie fokus vir eers op Johann se gedenkdiens wat Donderdag om tweeuur by die Nederduitse Hervormde Kerk Van Afrika in Centurion gehou word. 

“Ons sal eers volgende week daarop fokus,” het Rudolph gesê.

Die polisie het intussen bevestig dat twee mans, onderskeidelik 27 en 32 jaar oud, en ’n vrou van 19 jaar, Dinsdag ondervra is. Die mans is in Cleveland, Johannesburg, aangekeer en die vrou is in KwaZulu-Natal in hegtenis geneem. 

Die polisie wou nie hul identiteit voor hul verskyning Donderdag in die Johannesburgse streekhof bekendmaak of watter moontlike bewyse teen die vermeende aanvallers ingesamel is nie.