Hulle is op die uitkyk na Sinead O’Connor ná beweerde selfdooddreigemente, het die polisie in Chicago bevestig.

TMZ het Donderdag 23 Junie berig die polisie in hierdie metropool is op soek na die Nothing Compares 2 U-sangeres nadat ’n familielid ingebel en hulle ingelig het van Sinéad se dreigemente om haarself om te lewe te bring deur by ’n brug af te spring.

’n Woordvoerder van die Chicago-polisiekantoor het aan joernaliste van Entertainment Weekly gesê owerhede het inwoners van die streek gevra om die polisie onmiddellik in kennis te stel as hulle Sinéad gewaar. ’n Aktiewe soektog is egter nog nie amptelik begin nie.

Lees ook: Sinead O’Connor ongedeerd gevind ná polisiesoektog

Die 49-jarige Ierse sangeres was na bewering Donderdag met haar familielede in Dublin in verbinding om hulle in te lig oor haar planne om haar eie lewe te neem. Dit het haar geliefdes genoop om die owerhede van oor die Atlantiese streek daarvan in kennis te stel.

Vrydagoggend het sy egter besluit om "die waarheid" aan die lig te bring in ’n inskrywing op Facebook.

Sy het gesê dat die gerugte oor haar selfdoodplanne onwaar is. Sy skryf dat iemand by die Sword Garda-stasie in Dublin besluit het om valse en kwaadwillige skindernuus oor haar te versprei. Sy sê ook dat sy te gelukkig is om dit te oorweeg.

Sinéad, wat al openlik oor haar geestesgesondheidsprobleme gepraat het, het weke gelede - op 15 Mei – dieselfde kommer oor haar welstand gewek nadat sy nie teruggekeer het nie van ’n motorfietsrit wat sy die oggend om sesuur in Wilmette, Chicago, onderneem het. Die ster se familie was toe so bekommerd dat hulle haar die volgende dag by die Chicago-polisie as vermis aangemeld het. Gelukkig het dié haar etlike ure daarna opgespoor.

Die sangeres het al telkemale dreigemente van hierdie aard gemaak. Sy het in November 2015 ’n boodskap op die sosialemedianetwerk Facebook geplaas om te sê sy het midde-in ’n familiedrama ’n oordosis pille gesluk.

© Cover Media