Die polisie in Durban krap kop nadat hulle laas week ’n man met ’n speelgoedgeweer wat aangepas is om egte patrone af te vuur gevang het.

geweer

"Die span het ’n buitelander betrap met die speelgoedgeweer wat omgebou is om 0,2 millimeter ammunisie te kan afvuur," het die Ethekwini-polisie se woordvoerder, Priya Nunkumar, gesê.

Die polisie het glo ’n wenk by iemand in die man se binnekring gekry en hom in die Welbedacht-area by Chatsworth in hegtenis geneem. Hy het op 7 Desember in die hof verskyn en is op borgtog vrygelaat.

Hy het ook patrone by hom gehad toe die polisie hom betrap het en is glo van Zimbabwe.

Priya het aan Huisgenoot bevestig dat die polisie nie seker is hoe die man daarin geslaag het om die speelgoedgeweer aan te pas nie.

"Ons het die speelding weggestuur vir toetse en sal die uitslag bekendmaak sodra ons meer weet."