’n Voormalige werktuigkundige van Ivory Park, Johannesburg, het in ’n tydelike skikking R1,29 miljoen ontvang omdat hy sy arm verloor het nadat die polisie hom geskiet het, berig The Star.

Ntantise Daniel Taliwe (37) het die skikking met die polisie bereik nadat hy aanvanklik meer as R10 miljoen skadevergoeding geëis het.

Die saak het nooit die hof bereik nie omdat die polisieminister in sy amptelike hoedanigheid volle verantwoordelikheid aanvaar het.

Volgens die verslag het Ntantise op 19 Augustus 2004 saam met drie vriende aan ’n motorenjin gewerk toe hulle skote hoor.

Sy vriende het weggehardloop, maar Taliwe is van agter geskiet. Die koeël het die linkerkant van sy bors binnegedring en ’n aar beskadig.

Hy moes ’n operasie kry om die bloedsirkulasie na sy arm te herstel en ’n tweede operasie ondergaan weens gangreen, wat veroorsaak het dat sy arm bo die elmboog afgesit is.

Hy kan nie meer werk nie en het die skikking as vergoeding vir verlies aan inkomste ontvang, asook vir skade.

Volgens die koerant het die polisie geen verduideliking vir die skietery gegee nie.

SAPA

sapalogo