Die siekte was in 1988 endemies aan 125 lande, maar is met behulp van ’n intensiewe en omvattende inentingsprogram feitlik uitgeroei. Dit het in 2013 weer in Sirië begin voorkom en is vanjaar in 10 lande ontdek, waaronder Nigerië, Afganistan en Pakistan.

Die WGO se woordvoerders het vandeesweek in Genève, Switserland, gesê die frekwensie van polio voldoen aan die organisasie se standaarde om as ’n gesondheidskrisis verklaar te word.

“As ons nie aksie neem nie, kan ons daarin misluk om een van die wêreld se gevaarlikste siektes te keer wat deur inenting voorkom kan word,” het Bruce Aylward, die assistentdirekteur-generaal van die WGO, gesê. Volgens Bruce is daar vanjaar reeds 74 nuwe gevalle aangeteken, waarvan 59 in Pakistan was.

Polio is ook vanjaar in sentraal-Afrika opgemerk en kenners maan ouers om hul kinders teen die siekte te laat inent.

Simptome van polio

Polio is ’n virale infeksie wat in sowat 95% van gevalle geen simptome het nie. In die oorblywende persentasie gevalle kom die siekte in drie vorms voor:

  • ’n ligte vorm genaamd abortiewe polio (die meeste mense met dié tipe kan moontlik nie eers weet hulle het dit nie, want die siekte is beperk tot griepsimptome soos ’n ligte lugweg infeksie, diarree, koors, seer keel, en ’n algemene gevoel van ongesteldheid).
  • ’n ernstiger vorm wat verband hou met aseptiese meningitis genaamd nie-paralitiese polio (1-5% toon neurologiese simptome soos ligsensitiwiteit en ’n stywe nek).
  • ’n ernstige, uitmergelende vorm genaamd paralitiese polio (dit kom voor in 0,1-2% van gevalle)

Mense met abortiewe en nie-paralitiese polio herstel gewoonlik volkome. Maar paralitiese polio, soos die naam voorstel, veroorsaak spierverlamming en kan selfs noodlottig wees.

- Mieke Vlok

Bronne: ENCA, WGO, New York Times, kidshealth.org