“Die beplanning en werk om ’n badkamer te bou, asook die algemene instandhouding deur die kontrakteur RC Civils het lankal begin,” het die woordvoerder Manelisi Wolela gesê.

'Dit is deel van ’n drie jaar lange herstel-en-instandhoudingsprogram.'

“Dit is deel van ’n drie jaar lange herstel-en-instandhoudingsprogram en moes op 31 Mei vanjaar voltooi wees – etlike maande voor Oscar skuldig bevind is.”

Manelisi het gesê Oscar gebruik ’n gemeenskaplike badkamer by die Kgosi Mampuru-gevangenis in Pretoria.

City Press het Sondag berig dat die gevangenis se owerheid alles in hul mag doen om te verseker daar word tydens sy tronkstraf goed na Oscar gekyk.

Oscar is op 21 Oktober vyf jaar tronkstraf opgelê weens die strafbare manslag van sy meisie, die model en regsgeleerde Reeva Steenkamp. Hy het haar op Valentynsdag verlede jaar deur ’n geslote toiletdeur geskiet.

Vir die skietvoorval by die restaurant Tasha’s in Sandton, Johannesburg, in Januarie verlede jaar het Oscar drie jaar tronkstraf gekry, wat vyf jaar opgeskort is. Regt. Thokozile Masipa het beslis die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

Verlede week het die staat sy appèl teen Oscar se skuldigbevinding en vonnis ingedien.

Die Nasionale Vervolgingsgesag het ’n aansoek om verlof tot appèl ingedien teen sowel die skuldigbevinding as die vonnis.

Die appèl is gegrond op ’n regsvraag.

DStv?

City Press het ook berig dat Oscar na die B-seksie van die gevangenis, naby die hospitaalvleuel, geskuif is. Een van sy bure is die Tsjeggiese voortvlugtige Radovan Krecjir, wat volgens die koerant ’n TV het wat aan DStv gekoppel is.

Oscar is blykbaar weens ’n oorstroming verskuif uit sy sel in die EF-seksie. Die oorstroming is blykbaar die werk van Etienne Kabila, wat verhoorafwagtend is vir sy betrokkenheid in ’n komplot om sy broer, pres. Joseph Kabila van die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK).

Manelisi het bevestig Radovan het toegang tot ’n TV, maar het ontken dat hy DStv het.

“Gevangenes in aanhouding terwyl hul saak uitgestel is, het hul eie voorregte insluitend toegang tot TV’s, maar nie DStv nie.

“Radovan het toegang tot TV, maar nie DStv nie. Etienne Kabila is deel van 20 verhoorafwagtende gevangenes van die DRK. Dit wat hy gedoen het, was ’n ou truuk – om die krane oop te draai om ’n ‘oorstroming’ te veroorsaak. Hy is daaroor aangespreek en is tans met ander gevangenes,” het Manelisi gesê.