oscardevice

Brittanje se Daily Mail het berig dat hy vroeë vrylating geweier sou word omdat hy nie enkels het nie, wat dit onmoontlik maak om die elektroniese toestel aan te heg.

Volgens die berig kan die toestelle nie om oortreders se pols gesit word nie omdat dit te maklik verwyder kan word.

“Die departement verwerp enige idee dat pogings aangewend sal word om enige besluite rakende die oortreder vooruit te loop, en watter uitwerking dit op sy rehabilitasie sal hê,” het die woordvoerder Manelisi Wolela in ’n verklaring gesê.

Manelisi het gesê regulasies stipuleer elektroniese moniteringstoestelle moet kompak en niebelemmerend wees, en dit moet die persoon onder korrektiewe toesig sover moontlik toelaat om hul normale dagtake te verrig.

“Die elektroniese moniteringstoestel moet om die enkel of pols aangebring word sonder dat dit die persoon se gesondheid in gedrang bring.”

Oscar is op 21 Oktober vyf jaar tronkstraf opgelê weens die strafbare manslag van sy meisie, die model en regsgeleerde Reeva Steenkamp. Hy het haar op Valentynsdag verlede jaar deur ’n geslote toiletdeur geskiet.

Vir die skietvoorval in die restaurant Tasha’s in Sandton in Januarie verlede jaar het Oscar drie jaar tronkstraf gekry, wat vir vyf jaar opgeskort is. Regt. Thokozile Masipa het beslis die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het verlede week ’n aansoek om verlof tot appèl ingedien teen sowel die skuldigbevinding as die vonnis.

Die appèl is gegrond op ’n regsvraag.

Maandag het die NVG gesê die aansoek om verlof tot appèl sal in Desember in die hooggeregshof in Pretoria aangehoor word.