’n Man (22) van Minnesota is dood nadat sy swanger meisie (20) hom in die bors geskiet het.

Om nog kykers na hul YouTube-kanaal te lok, het Pedro Ruiz sy meisie, Monalisa Perez, aangesê om met ’n .50 kaliber-handgeweer te skiet op ’n boek wat hy teen sy bors hou.

Hulle het vermoedelik gedink die boek sal die koeël stuit, maar hul fout besef toe Pedro gewond en eindelik op die toneel dood verklaar word.

Monalisa is tans in aanhouding op ’n aanklag van strafbare manslag.

Claudia Ruiz, Pedro se tannie, het aan NY Post gesê die paartjie het gedink dié truuk gaan van hulle glanspersoonlikhede maak.

Sy sê: “Hy het my vertel van die idee. Ek het hulle afgeraai om dit te doen en gevra: 'Hoekom gaan julle ’n vuurwapen gebruik? Hoekom?’ Sy antwoord  was dat hulle nog kykers wou hê.”

Ten spyte van Claudia se pleidooie het die paartjie met hul waansinnige idee voortgegaan.

Hulle het ’n driejarige dogter en Monalisa is tans sewe maande swanger. Die kleinding gaan glo na sy pa genoem word.

Bronne: NY Post ,BBC News, Metro