’n Uitblinker by ’n hoërskool in Utah in die weste van Amerika het gister skokgolwe deur dié deelstaat gestuur toe hy vyf klasmaats met ’n mes aanval.

Die 16-jarige leerder aan die Mountain View-hoërskool in Orem was glo ’n pligsgetroue leerder met geen vorige tekens van gedragsprobleme nie.

Hy het ’n mes saam met hom na die seunskleedkamer geneem en vyf seuns daarmee gewond, waarna hy homself in die nek gesteek het. Die seuns was besig om vir hul oefenklas aan te trek.

Die seun se toestand is glo stabiel. Dié wat hy aangeval het, is almal kritiek maar stabiel, het die polisie in ’n verklaring gesê. Hulle het ook ’n verklaring van die seun se ouers uitgereik waarin die ouers sê hulle “het nie woorde om te beskryf hoe jammer hulle is vir die hartseer en pyn wat veroorsaak is” nie.

Die polisie ondersoek die voorval.