Die Paarl-polisiekantoor het skuins voor 12:00 Maandagmiddag ’n klag ontvang oor ’n bakleiery op ’n plaas op die Schuurmansfonteinpad tussen die Paarl en Franschhoek, sê lt.kol. Andrè Traut.

Die Drakenstein-plaaswag is ook in kennis gestel van die onenigheid op die plaas toe Bruce McCreadie en ’n vrou, ’n tydelike plaaswerker, oor lone vasgesit het.

“Die vrou het ses ander mense gaan roep om haar te help. Een van die mans het met ’n panga opgedaag en die boer raak gekap. Twee van die ander mans het die boer met ’n baksteen probeer slaan,” sê Daan van Leeuwen Boomkamp, hoof van die plaaswag.

“Die heeltydse werkers het toe ingegryp en hom gehelp. Sewe mense het gevlug. Die polisie is ook uitgeroep en veiligheidspersoneellede van die Val de Vie-landgoed het kom help.”

Volgens Daan is dit nou oestyd in die omgewing en is daar baie tydelike plaaswerkers wat op die plase in die omgewing werk.

Die plaasbestuurder is beseer en na ’n nabygeleë hospitaal geneem nog voor die polisie by die plaas opgedaag het, sê Andrè.

Daan sê 11 mense is in verband met die voorval aangekeer en volgens Andrè ondersoek die polisie die voorval.

Huisgenoot het verneem Bruce se skedel is gekraak en hy het verskeie snywonde opgedoen. Sy toestand is glo bestendig.

“Ons plaaswag funksioneer baie goed en ons en die polisie was binne minute op die toneel. Ons werk ook baie nou saam met die polisie en duld glad nie hierdie soort optrede nie,” sê Daan.

Bruce is volgens Die Son in Februarie vanjaar aangekla van aanranding en die polisie sou ook die saak verder ondersoek vir poging tot moord.

Hy het na be­wering in November sy drie honde op plaasbewoners losgelaat en glo ook gemik om hulle om te ry.