Die plaaslike kletsrymer Jub Jub en sy mede-beskuldigde Themba Tshabalala is parool toegestaan nadat hulle in 2010 vier skoolkinders se dood veroorsaak het.

[caption id="attachment_153063" align="aligncenter" width="600"]Jub Jub en sy lyfwagte. Foto: Papi Morake Jub Jub en sy lyfwagte.
Foto: Papi Morake[/caption]

Jub Jub, wie se regte naam Molemo Maarohanye is, en Themba se parool is sedert Donderdagoggend in werking.

"Die departement kan bevestig dat parool toegestaan is aan Katlego Molemo Maarohanye en Themba Tshabalala nadat dit goedgekeur is deur die korrektiewe toesig-raad en die paroolraad by Leeuwkop en Baviaanspoort. Dit tree 5 Januarie in werking," het die departement van korrektiewe dienste se Singabakho Nxumalo in 'n verklaring gesê.

Die twee is aanvanklik in 2012 onder meer skuldig bevind aan moord nadat hulle in 2010 resies gejaag het op 'n openbare pad naby Soweto en in 'n dodelike ongeluk betrokke was.

Die twee het beheer verloor oor hul Mini Cooper-voertuie en in die vroeë oggendure in 'n groep skoolseuns van Pretoria-Noord vasgery, waarvan vier oorlede is. Twee ander seuns is ernstig beseer.

Hulle is 25 jaar tronkstraf opgelê.

Die moordklag is egter in 2014 verander na 'n bevinding van strafbare manslag en hul vonisse is verkort na 10 jaar. Jub Jub en Themba het elk net meer as vier jaar tronkstraf uitgedien.

Die departement het gesê sommige van die slagoffers se families was betrokke by die paroolproses.

Die vier seuns wat gesterf het is Prince Mohube, Mlungisi Cwayi, Andile Mthombeni en Phomello Masemola. Frank Mlambo en Fumani Mushwana het permanente breindskade opgedoen.