Die film Noem My Skollie het geskiedenis gemaak: Dis die eerste film wat in Pollsmoor-gevangenis aan lede van die publiek gewys is.

Dis byna onmoontlik om toegang te kry tot hierdie maksimumveiligheidgevangenis, maar die vervaardigers het vir ’n onvergeetlike ervaring gesorg toe hulle hierdie trefferfilm daar aan meer as 240 gevangenes gewys het.

Die rolprent trek ’n mens behoorlik in in die bendewêreld op die Kaapse Vlakte. Dit gee jou ook ’n vinnige blik gee oor hoe moeilik dit is om in die gevangenis te oorleef. Elke gevangene kon ná die tyd skakel met die draaiboekskrywer, John W. Fredericks (70), op wie se lewe Noem My Skollie gegrond is.

[caption id="attachment_134520" align="alignnone" width="600"]xx Die fliek speel af op die Kaapse Vlakte. Foto: Lindsey Appolis[/caption]

Tydens die vertoning het John kort-kort sy sakdoek uitgehaal om trane af te vee. “Dit is ’n ongelooflike voorreg om hier te kan sit en na die film oor my lewe te kyk. Dit is steeds hartseer wanneer ek sien wat aan my gedoen is, maar ek is dankbaar ek het dit oorleef om die verhaal te vertel.”

Die film speel in die 1960’s op die Kaapse Vlakte af. Dit handel oor John (in die film AB, gespeel deur Dann-Jacques Mouton), wat as kind tot elke prys bendebedrywighede wil vermy. Ná ’n baie traumatiese ervaring besluit hy en sy drie vriende egter om hul eie bende te stig om hulself te beskerm. Nadat die groepie heelwat moeilikheid gemaak het, word AB en sy vriend Gimba (Gantane Kusch) in hegtenis geneem toe hulle ’n winkel probeer beroof. Hulle word tot twee jaar gevangenisstraf gevonnis.

[caption id="attachment_134524" align="alignnone" width="600"]Tydens die vertoning het John kort-kort sy sakdoek uitgehaal om trane af te vee. Foto: Misha Jordaan Tydens die vertoning het John kort-kort sy sakdoek uitgehaal om trane af te vee. Foto: Misha Jordaan[/caption]

In Pollsmoor word die jong mans aan die rowwe wêreld van die tronk blootgestel en elkeen moet doen wat nodig is om te oorleef. Gumba sluit by die tronkbendes aan, maar AB besluit om die geharde misdadigers stories te vertel – en hulle los hom uit.

Toe AB twee jaar later uit die gevangenis vrygelaat word, begin hy stories skryf. Maar sy ou vriende probeer hom oorreed om terug te keer na hul bende. Die eindelike besluit hou verreikende gevolge in.

[caption id="attachment_134522" align="alignnone" width="600"]xx Party gevangenes kon die fliek saam kyk. Foto: Misha Jordaan[/caption]

John het 14 jaar lank aan die verhaal geskryf met die hulp van die regisseur, Daryne Joshua, en die vervaardigers, David Max Brown en Moshidi Motshegwa (Maxi-D Productions). “Ek wou my storie om twee redes vertel,” sê John. “Mense weet nie hoe moeilik die bendewêreld is en hoe maklik ’n mens daarin vasgevang kan word nie. Ek hoop om hulle ’n bietjie daarvan te kan wys. Tweedens wil ek ons jong mense hoop gee. Ek wil vir hulle sê hulle mag maar weer droom; daar is hoop.”

Nicro (die Suid-Afrikaanse Nasionale Instituut vir Misdaadvoorkoming en die Herintegrasie van Oortreders) het in samewerking met die departement van korrektiewe dienste ooreengekom om die film aan gevangenes te wys wat deelneem aan die kuns-en-kultuurprogramme in die tronk.

Almal is op grond van goeie gedrag gekies. Een van die hoofakteurs, David Manuel, is ook toegelaat om die film te kyk. David was tydens die verfilming van Noem My Skollie uit op parool. Daryne het danksy die webtuiste helpiamfree.com by hom uitgekom. David is vir ’n oudisie genooi en het ’n hoofrol losgeslaan.

[caption id="attachment_134521" align="alignnone" width="600"]Pollsmoor-gevangenis. Foto: Misha Jordaan Pollsmoor-gevangenis. Foto: Misha Jordaan[/caption]

Ná die verfilming is David weer in hegtenis geneem nadat hy op ’n toneel was waar ’n misdaad gepleeg is. Tydens die vertoning was David verhoorafwagtend in Pollsmoor en het die film in sy geel tronkpak meegmaak.

Hy is ’n dag daarna onskuldig bevind en vrygelaat.

Noem My Skollie open landwyd op 2 September 2016.