’n Man is Maandagmiddag na ’n hospitaal naby Durban geneem nadat ’n slang hom gepik het. Volgens die Netcare911-woordvoerder, Chris Botha, het die man op ’n kleinhoewe in die Drummond-omgewing gewerk toe ’n slang hom pik.

Luidens berigte het die werker stompe opgeruim toe hy vermoedelik deur ’n nagadder op die hand gepik is. Paramedici het die man op die toneel gestabiliseer voor hulle hom na ’n hospitaal in Chatsworth geneem het.

Daar was onlangs verskeie berigte van slangbyte, want die reptiele word aktiewer ná die eerste groot reënval. In Januarie is ’n Jack Russell in die Vrystaat dood nadat ’n Kaapse kobra hom gepik het toe die hond sy swanger eienaar en haar tweejarige dogter probeer beskerm.

In Kaapstad het ’n bulhond op sy beurt in sy eienaar se motorhuis ’n kobra doodgebyt. En in Desember is die voormalige Springbok-skut Peter Bramley en ’n 17-jarige meisie op plase in die Vrystaat gepik.

’n Lys van kenners wat slange kan verwyder, kan afgelaai word op die Afrika-slangbytinstituut se webtuiste, africansnakebiteinstitute.com.

Bron: News24

Lees ook:

Seun in hospitaal nadat hy met skaatsplank teen paal vasry

Aardskudding in Durban laat Twitter gons