Summer Grant van Norwich in Engeland is dood toe sterk winde die afgelope naweek die springkasteel waarin sy gespeel het, by ’n pretpark wegwaai.

Lees ook: Vrou kwyn stadig weg in hysbak ná werkers haar daarbinne vergeet

“Dit was ’n fratsongeluk. Dit het reguit op en oor die woonwaens gewaai, toe keer dit om en waai in die park af,” het ’n werker by die pretparkterrein aan die Daily Mirror vertel. “Dit het minstens 400 m ver gewaai. Ons het gedink dit gaan nooit neerkom nie.”

’n Nadoodse ondersoek het aangedui die meisie het weens veelvuldige beserings gesterf.

“Woorde kan nie beskryf hoe ek voel nie. Die lewe is wreed,” het Summer se bedroefde ma, Cara Blackie (26), gesê.

“Summer was ’n slim, pragtige en liefdevolle kind. Dis so onregverdig dat jy weggevat is; dit maak nie sin nie. Ek is gebroke.”

Summer se pa, Lee (30), sê hy het nooit gedink “ons pragtige engel sou van ons weggeneem word of dat ons haar sou oorleef nie. Sy was die gelukkigste, bedagsaamste en pragtigste meisietjie. Ek kan dit nog nie verwerk dat sy nie hier is nie. Ons het jou baie lief, jy sal altyd by ons wees, al ons liefde. Van Pappa, Mamma en die familie.”

Lees ook: Vlieënde springkasteel beseer drie kinders

The Guardian berig ’n 27-jarige man en 24-jarige vrou is op borgtog vrygelaat nadat hulle in hegtenis geneem is vir strafbare manslag vanweë nalatigheid.

’n Vyfjarige seuntjie van Johannesburg het in 2012 gesterf toe die elektriese motor van ’n springkasteel by ’n restaurant aan die oewer van die Vaalrivier hom doodgeskok het.

Ruan Schlebusch se familie het later uitgevind ’n springkasteel se elektriese motor moet bedek wees, wat nie die geval was by Stonehaven on Vaal nie.

“Ek het nooit daaraan gedink nie,” het sy ma, Yolandi Enslin, destyds aan Huisgenoot gesê. “Die springkasteel in ons tuin het ook nie ’n bedekte motor gehad nie. Dis nie iets waaraan jy dink nie.”

Spring veilig

Die soorte voorvalle is ongewoon omdat dit maklik vermy kan word, sê Naomi Eady van die Jolly Jump Castles (Durbanville).

“ ’n Goeie springkasteel-operateur weet dit moet behoorlik geanker wees,” sê Naomi en voeg by dat lang penne gebruik word om die struktuur in die grond vas te pen voor dit stewig met tou vasgemaak word. Sandsakke van 20 kg word ook ingespan om die springkasteel op die grond te hou.

“Sterk winde behoort nie veel van ’n faktor te wees as die springkasteel behoorlik geanker is nie. Jy kan dit dalk heroorweeg in stormagtige weer. Maar ’n ligte motreën is oukei, solank die elektriese motor bedek is.”

Ouers moet ook seker maak die springkasteel staan op ’n plat oppervlak.

“As dit op ’n terrein staan wat skuins is, is kinders meer geneig om op die grond te beland.”

En as jy ’n groot groep kinders verwag, is Naomi se raad om ’n groter een met hindernisse eerder as ’n gewone springkasteel te kry. Sy sê daardie soort springkastele kan groter groepe beter akkommodeer en verhoed dat kinders teen mekaar stamp.

Nog veiligheidswenke:

• Volwassenes moet ten alle tye toesig hou.

• Maak seker die springkasteel is geskik vir die ouderdomsgroep – vra die verhuringsmaatskappy daaroor as jy onseker is.

• Beperk die aantal kinders wat op ’n slag spring indien jy nie ’n groot springkasteel het nie.

• Geen skerp voorwerpe of skoene mag op die springkasteel toegelaat word nie.

• Maak seker die springkasteel is in ’n goeie toestand wanneer dit afgelewer word. Stel vrae as jy byvoorbeeld sien daar steek drade uit.

• Hou by die voorsorgmaatreëls soos voorgeskryf deur die verhuringsmaatskappy.

– Saamgestel deur Samantha Luiz

Bronne: theguardian.com, mirror.co.uk, dailymail.co.uk

Ook op Huisgenoot.com

Wonderlike nuus vir Kurt Darren en sy Dunay!

Wrakstukke aan Mosambiekse kus ‘beslis soortgelyk aan vermiste vlug MH370’

Kyk: Dié 7 akteurs besit hotelle – en so lyk dit!

Francois van Coke gesels oor ouderdom en sê hoe dit hom verander het

Gelukkige einde vir oupa ná ’n hartseer foto van hom soos ’n veldbrand versprei

Jy sal nie glo saam met watter superster Juan de Jongh in Brasilië ’n selfie geneem het nie!