Diaan was saam met sy man, Shaun Murphy, en vriende in Primi Piatti in Kaapstad toe hy aan ’n stuk steak stik. Shaun, wat noodhulp-opleiding het, het toe tot sy redding gekom. "As hy nie langs my gesit het nie, was ek dood," sê Diaan aan Huisgenoot.

"Ons het Sondagaand in Primi Piatti geëet. Ek was verskriklik honger en ek het ’n groot stuk steak bestel. Ek was net te gretig om die steak te eet. Toe stik ek," vertel hy.

"’n Groot stuk van die steak het afgegly in my keel en vasgesit," vertel hy. "Jy skrik groot. Ek het gedog dit sal uitkom. Ek het stil gesit."

Sy vriendin het later onraad gemerk. "My vriendin het gevra of ek oukei is. Ek het toe my hand opgelig."

Shaun, wat noodhulp-opleiding as swemmer gekry het, het toe gevra of hy moet help. "Ek het toe vir hom ’n thumbs-up gegee. Hy het toe die Heimlich-maneuver gedoen. Hy het dit drie keer gedoen. Toe kom dit uit."

Sy vriende het groot geskrik, vertel Diaan. "Hulle het iemand geken met wie dit gebeur het en die persoon is dood. Hulle het groot geskrik ná die tyd. Agterna het Shaun in trane uitgebars."

Hy het ook sy nagmerrie-ervaring op Facebook gedeel en vertel hoe sy man sy lewe gered het. "Ek is geseënd dat my wonderlike man noodhulp-opleiding het! So iets kan in ’n oogwink gebeur.

"Dankie aan Hildegard Steenkamp en Deon Pieterse wat daar was om te help. Ek is lief vir julle en dankie vir ’n wonderlike naweek," het Diaan in die sosiale media geskryf.

Diaan, die meesterbrein van die modereeks Daniel Daniels Couture, is bekend as die man wat die sterre laat mooi lyk. Plaaslike bekendes soos die TV-persoonlikhede Nadia Beukes en Therese Benade en die sangeres Nianell het al in sy uitrustings gepryk. Hy het ook sy eie TV-reeks, My droom-trourok, op VIA (DStv-kanaal 144). Die sesde seisoen begin môre om 17:30.

My suster is vannaand op #mydroomtrourok Ons finale episode van seisoen 5! @viatv 17:30pm ?? #bridetobe

A post shared by Diaan Daniels (@diaandaniels) on

Diaan en Shaun vier op 26 Julie hul derde huweliksherdenking. Shaun het 'n trou-en geleentheidsbeplanningsmaatskappy en help met die bemarking van Diaan se maatskappy. Ons is so bly sy storie het ’n gelukkige einde!