JARE lank was dit een van die bes bewaarde geheime in die vermaakbedryf. ’n Suksesvolle sanger wat gehore met haar besielende verhoogoptredes en sterk stem meevoer, het net lank genoeg nugter gebly om haar aanhangers met gunstelinge soos Jabulani en World in Union te vermaak . . .

En min mense het geweet nadat een van Suid-Afrika se bekendste sterre van die verhoog gestap het, sy huis toe gegaan en die een glas wodka ná die ander afgesluk het tot sy omkap.

“Ek het dit skoon gedrink – met niks daarby nie – en die aaklige, skerp smaak het my laat terugdeins,” sê PJ Powers, die talentvolle sanger wat jare lank tevergeefs geworstel het om haar dranklus in toom te hou. “Maar ek het elke dag aangehou tot ek in ’n beswyming raak.”

Die sanger, wat nou op die kassie te sien is as een van die beoordelaars in e.tv se werklikheidsprogram Popstars, het Huisgenoot na haar nuwe huis in Fourways, Johannesburg, genooi om openlik oor die duiwels te praat wat eens by haar gespook het.

Sy sê haar lewe het nou weer koers gekry en sy is eindelik gereed om daaroor te praat. Sy hoop ook haar ervaring sal vir ander mense as waarskuwing dien.

Die drieslaapkamerhuis is vol opvallende antiekware en Afrika-versamelstukke. Dis lig, lugtig en warm – baie soos die ster self deesdae voel.

“My nugterheid is ’n geskenk,” sê sy en vly haar op die gemaklike rusbank in die oopplan- woon-en-eetkamer neer, met ’n stomende cappuccino in die hand. “Ek het my lewe te danke aan my familie, my lewensmaat, my borg en Alkoholiste Anoniem.”

Die donker dae toe haar afhanklikheid van drank haar gesondheid ernstig bedreig het, is nou vir haar verby. Haar suster Priscilla – wat by PJ se vorige huis, ook in Fourways, langs haar gewoon het – het die ster eendag bewusteloos in die bed aangetref.

Sy het na wodka geruik.

Dit was nie die eerste keer nie, maar dié keer was anders. PJ het erger as gewoonlik gelyk, moeiliker wakker geword en was baie deurmekaarder as voorheen.

Uit desperaatheid het Priscilla haar suster in haar motor gelaai en haar na die naaste hospitaal geneem. Die dokters daar het vermoed sy het weens drankmisbruik stuipe gekry. Ná drie en ’n half jaar van kwaai drink, was sy op die rand van lewerversaking, het hulle gesê.

“Ek het die dokter gevra of ek sal sterf en hy het gesê: ‘Wel, ek doen wat ek kan’,” vertel PJ (50) openhartig. “Dit het my regtig geskok.”

Dié laagtepunt het haar laat besluit om vir rehabilitasie te gaan, maar sy het nie lank nugter gebly nadat sy ontslaan is nie.

Sy het besef sy is nog nie oukei nie en het haar weer in ’n rehabilitasiekliniek laat opneem.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 28 Oktober 2010