Brad Pitt se familie is “baie trots” op Angelina Jolie dat sy openlik gepraat het oor dubbele mastektomie.

Die 49-jarige World War Z-ster se ma, Jane Pitt, sê sy het die 37-jarige Oscar-bekroonde aktrise “innig” lief en is bly sy het die drastiese stap gedoen om albei haar borste te laat verwyder sodat sy haar ses kinders kan sien grootword. Dit was nadat die BRCA1-kankergeen by Angelina gediagnoseer is en sy gehoor het sy het ’n 87 persent kans op borskanker en ’n 50 persent kans op eierstokkanker.

Jane, wat blykbaar voorheen baie geheg was aan Brad se eksvrou, Jennifer Aniston, sê in ’n verklaring aan People.com: “Ons is baie trots op Angie. Dit beteken baie vir ons familie, veral ons kleinkinders. Ons het haar innig lief.”

Angelina se broer, James Haven, het ook sy ondersteuning uitgespreek oor haar besluit om die prosedure te ondergaan, grootliks nadat hul ma, Marcheline Bertrand, in 2007 op 56 weens eierstokkanker dood is.

Hy sê: “Nes ons ma, stel my suster altyd haar kinders eerste. Ek is so dankbaar dat ek haar broer is.”

Brad het gister (14 Mei) sy verloofde saam met wie hy ses kinders het, Maddox (11), Pax (9), Zahara (8), Shiloh (6) en die tweeling Knox en Vivienne (4), se besluit om haar borste te laat verwyder en te laat heropbou as “heldhaftig” beskryf.

Hy sê: “Noudat ek die besluit eerstehands aanskou het, is Angie, en so baie ander soos sy, se keuse vir my absoluut heldhaftig. Baie dankie aan ons mediese span vir hul sorg en ingesteldheid.

“Al wat ek vir haar wil hê, is ’n lang en gelukkige lewe, saam met my en ons kinders. Dit is ’n blye dag vir ons gesin.”

Angelina het nou ’n vyf persent risiko vir borskanker en sy erken haar kinders was vir haar ’n groot aansporing om die operasie te ondergaan, want sy wil hulle almal sien grootword.