Vyf renosterhorings is gesteel van Arnold Pistorius, die oom van die Paralimpiese atleet Oscar Pistorius, het Beeld Maandag berig.

Anneliese Burgess, die Pistorius-familie se woordvoerder, het bevestig die horings is gesteel uit ’n instapkluis op Arnold se sakeperseel in Waterkloof, Pretoria.

Die diefstal is twee weke gelede by die Brooklyn-polisiekantoor aangemeld, het Anneliese aan die dagblad gesê.

“Dit was ons eie renosters se horings wat gesteel is. Die renosters is onthoring omdat ons bang was hulle word vir hul horings gestroop,” het sy gesê, en het bygevoeg die familie het al die nodige permitte vir doe horings.

Oscar is verlede maand skuldig bevind aan strafbare manslag weens die skietdood van sy meisie, Reeva Steenkamp, terwyl hy beweer hy het haar vir ’n inbreker in sy huis aangesien.

- Sapa