“Ons neem kennis van die staat se aankondiging. Die gereg moet sy gang gaan,” het Oscar se oom Arnold in ’n verklaring gesê.

Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het Maandag bekendgemaak dat hulle beplan om Oscar se vonnis en skuldigbevinding sal appelleer.

“Die appèl teen die skuldigbevinding is gegrond op ’n regsvraag,” het die NVG-woordvoerder, Nathi Mncube, in ’n verklaring gesê.

“Die meriete en tekortkominge van die NVG se argument in hierdie verband sal bekend word wanneer ons dokumente vir verlof tot appèl indien.”

Oscar is verlede Dinsdag vyf jaar tronkstraf opgelê weens die strafbare manslag van sy meisie, die model en regsgeleerde Reeva Steenkamp.

Vir die skietvoorval by die restaurant Tasha’s in Melrose Arch in Januarie verlede jaar het Oscar drie jaar tronkstraf gekry, wat vyf jaar opgeskort is.

Regt. Thokozile Masipa het beslis die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

Nathi het gesê die staatsaanklaer Gerrie Nel en die advokaat Andrea Johnson bestudeer die beslissing, doen navorsing en raadpleeg regskenners om vas te stel of daar voldoende rede vir ’n appèl is.

“Die aanklaers berei die nodige dokumente voor om dit binne die volgende paar dae in te dien.”

Oscar se verdedigingspan kon nie onmiddellik vir kommentaar bereik word nie.

- Sapa