Forensiese ondersoekers uit Amerika sal Oscar Pistorius, die paralimpiese atleet wat van moord aangekla word, se verdedigingspan met sy hofsaak bystaan.

Sy woordvoerder, Anneliese Burgess, het Dinsdag gesê: “Ek kan bevestig ’n span forensiese ondersoekers uit Amerika sal met die verdedigingspan saamwerk.

“Dis normale prosedure om tydens die voorbereiding vir enige hofsaak saam met kenners te werk.”

Sy het gesê die span het Maandag saam met sy prokureurs by Oscar se huis in Pretoria aangekom.

Anneliese het gesê hulle sal nie die besonderhede van die ondersoekers se werk bespreek nie. Sy wou nie verder kommentaar lewer nie.

Oscar het op 19 Augustus vlugtig in die Pretoriase landdroshof verskyn. Hy word aangekla dat hy sy meisie, Reeva Steenkamp, op 14 Februarie in sy huis in Pretoria geskiet het.

Tydens sy borgtogverhoor het Oscar getuig hy het gedink Reeva was ’n inbreker.

Oscar sal ook teregstaan in verband met ’n oortreding van die Vuurwapenbeheerwet.

Die hofsaak is na die hooggeregshof in Pretoria verskuif en sal van 3 tot 20 Maart duur. Volgens die klagstaat sal 107 getuies vir die staat getuig.