“Mnr. (Jared) Mortimer was onbekend aan Oscar en ons familie voor sy uitlatings aan die pers oor die sogenaamde onderonsie waarin hy hom as die slagoffer voorstel. Hy is ’n man wat onwaarhede smous om die maksimum hoeveelheid aandag te kry en skade aan te rig,” het Oscar se oom Leo Pistorius in ’n verklaring gesê wat namens die familie uitgereik is.

Oscar en Jared het by The VIP Room by die Michelangelo Towers in Sandton, Johannesburg, slaags geraak.

Oscar het Woensdag deur sy woordvoerder gesê Jared hom “aggressief begin invra” oor sake rakende sy moordverhoor.

Jared het na bewering aan die koerant The Star gesê Oscar het pres. Jacob Zuma en sy eie vriende beledig, wat tot die onderonsie gelei het.

“Ek het persoonlik beledig gevoel omdat ek goeie vriende met ’n lid van die Zuma-familie is,” het hy gesê.

Jared beweer Oscar was dronk en het hom met sy vinger in die bors gedruk terwyl hulle gepraat het. Hy het Oscar gestoot en dié het agtertoe oor ’n stoel geval. Die uitsmyters het na bewering tussenbeide getree en Oscar gevra om die klub te verlaat. Maar die Pistorius-familie sê Jared se weergawe is onwaar.

'Jared was die aggressor en ooggetuies bevestig dit.'

“My ondersoek dui aan Jared was die aggressor en ooggetuies bevestig dit,” het Leo gesê.

Hy het ook ontken dat Oscar die president se familie beledig het.

“Ons wil graag onomwonde sê dat daar geen waarheid in die hierdie man se bewering is dat Oscar byvoorbeeld die Suid-Afrikaanse president beledig het of oor ons familie se sogenaamde invloed gespog het,” het hy gesê.

“Oscar was saam met een van pres. Zuma se seuns op skool en het baie van hom gehou. Oscar bewonder ook pres. Zuma se ongelooflike ondersteuning van Paralimpiese atlete.”

Die familie het ook bewerings afgemaak dat Oscar beweer het hulle besit die nasionale weermag.

Die familie sê die Paralimpiese atleet was onwys om ’n openbare plek te besoek, maar hulle het gesien hy raak ál eensamer en meer vervreem.

“Ons glo dit is onderliggend aan van sy self-beskadigende gedrag,” het Leo gesê, en het bygevoeg die familie vind maniere om sy isolasie te hanteer.

Intussen het die verdediging in Oscar se moordverhoor verlede week in die hooggeregshof in Pretoria sy saak gesluit. Slotbetoë gaan na verwagting op 7 Augustus gelewer word.

- Sapa