’n Waarnemer van vreemde vlieënde voorwerpe (VVV’s) beweer dat daar tekens van “buiteruimtelike lewe” op Mars is nadat ’n foto, geneem deur Nasa se Curiosity Rover, iets getoon het wat na ’n piramiede lyk.

Die piramiede, wat volgens skatting so groot is soos ’n motor, het amok onder samesweringsteoretici veroorsaak, hoewel skeptici sê dit is niks anders nie as ’n toevallige rotsformasie.
’n Video op die YouTube-kanaal Paranormal Crucible beweer dat die “feitlik volmaakte ontwerp en vorm” die “gevolg van intelligente ontwerp” is en beslis nie “’n speling van lig en skadu” of ’n toevallige formasie nie. Die video suggereer dat die formasie ’n baken is, opgerig deur ’n buiteruimtelike beskawing wat eens op ’n tyd die planeet bewandel het. Volgens die video “is bakens deur die eeue heen deur verskeie kulture hier op die aarde gebruik”.
Ander samesweringsteoretici beweer dat die piramiede eenvoudig die bopunt van ’n groter struktuur is wat onder die grond begrawe is. Mense wat kommentaar gelewer het op die video, sê egter dat die wind die piramiede kon gevorm het en hulle verwys na soortgelyke rotsformasies wat hier op aarde so gevorm is. Die piramiede is ook nie die eerste voorwerp wat die VVV-waarnemers met hul arendsoë op Mars raakgesien het nie. ’n Foto wat in 1976 deur Nasa se Viking 1 geneem is, toon na bewering ’n mens se gesig op die oppervlak van die planeet, terwyl die Paranormal Crucible beweer dat hulle ’n versteende vis en ’n mensagtige kabouter op beeldmateriaal van Nasa se ruimteswerwers uitgeken het.

BRONNE: MIRROR.CO.UK, DAILYMAIL.CO.UK, BT.COM