Die uitgewer Michael Joseph het glo besluit om geen verdere boeke van Pippa Middleton, die suster van Brittanje se hertogin van Cambridge, te publiseer nie.

Pippa se idees vir twee opvolgboeke vir haar ‘Celebrate: A Year of Festivities for Families and Friends’ is glo deur die uitgewer afgeskiet. Dié boek se verkope was baie teleurstellend .

Die uitgewer is glo ongelukkig omdat die Paleis pal by Pippa se bedrywighede inmeng en sy nie genoeg bemarking vir die boek kon doen nie. Die 29-jarige Pippa is glo ook gefrustreerd omdat haar lewe ingeperk word bloot omdat sy nou deel is van die koninklike familie.

Pippa het glo ’n vooruitbetaling van meer as R5.5 miljoen gekry vir ‘Celebrate’, ’n bedrag wat uitspattig is vir so ’n ongetoetsde skrywer. Die hardeband weergawe van die boek het slegs 2189 kopieë in die eerste week verkoop en dit verhandel nou teen R85 eerder as die oorspronklike R350.

Resensente was ook nie juis gaande oor die boek wat wenke gee oor hoe om partytjies te beplan nie.