Kate (31), wat in Julie die lewe skenk aan haar en prins William (30) se eersteling, het koningin Elizabeth se toestemming gekry om die koninklike tradisie te verbreek en haar suster, ’n voormalige partytjiebeplanner, toe te laat om die geleentheid vir haar familie en vriende te reël om haar naderende ouerskap te vier.

“Dis nie koninklike tradisie nie, maar Kate is nie ’n tradisionele koninklike nie,” het ’n vriendin aan die koerant The Sun gesê.

Catherine se broer, James (26), gaan ook help en bak ’n koek in die vorm van ’n fopspeen. Die geskenkpakkies vir die vroulike gaste gaan spog met kerse en produkte van die winkels The White Company en Jo Malone.

“Sy is modern en wil ’n normale lewe hê,” het die vriendin gesê. “Prins Harry, Kate en William is die koningsgesin se skakel na die jonger generasie. ’n Ooievaarstee sou nie normaalweg gehou word as jy lid van die koningsgesin is nie, maar daar is nou ’n moderner manier van dink. Dit sal ’n lekker dag vir almal wees en Kate doen dit met die koningin se goedkeuring.”

Sodra die baba gebore is, gaan Kate en William glo ook nie ’n “tradisionele koninklike oppasser” hê nie. Hulle gaan betrokke wees by die grootmaak van die kind en die prins sal waarskynlik sy werk as soek-en-redding-vlieënier by die koninklike lugmag los om meer tyd saam met sy gesin deur te bring.

“William gaan doeke omruil! Ek dink ons gaan binnekort hoor hy verlaat die lugmag en trek huis toe,” sê Jennie Bond, ’n kenner van die koninklike gesin. “Hy is vasbeslote om Kate en sy kind te ondersteun. Hulle sal ’n oppasser hê, maar dalk nie voltyds of die tradisionele koninklike oppasser nie.”