Prins William se 29-jarige skoonsuster skryf in haar eerste artikel hoe sy vyfuur die oggend saam met haar suster, Kate (31), by Wimbledon in die tou moes staan om haar “held”, Tim Henman (38), te sien speel.

In ’n deel oor haar gunsteling Wimbledon-oomblikke skryf sy: “Om in 2004 op die eerste Sondag van Vastyd van vyfuur die oggend drie uur lank saam met my suster te wag en kaartjies van £35 vir die middelbaan te koop – my eerste keer.

“Die sitplekke was oop vir almal en ek onthou hoe ek amper oor my eie voete geval het om so na moontlik te wees aan my Britse held, Tim Henman. Ons verjaar ook op dieselfde dag (6 September). Die atmosfeer was elektries. Dit was meer soos ’n karnaval as ’n pretensieuse tuinpartytjie, wat dit so dikwels is, en die skare was vir ’n verandering dankbaar vir die Britse reën.”

Pippa vertel ook hoe sy gedroom het van tennis speel en graag ’n belangrike tennistoernooi wou wen. “Ek was agt toe ek die eerste keer Wimbledon toe gegaan het en toe reeds ’n ywerige tennisspeler.

“Tydens daardie eerste besoek het ek my kinderlike tennisdrome uitgeleef. Ek het vir myself ’n poskaart van die vrouekampioenskapsbyeenkoms se trofee gekoop, daarop geskryf “ek gaan dit eendag wen” en onderaan geteken.

Pippa skryf ook maandeliks ’n rubriek, Friday Night Feasts, in die tydskrif Waitrose en haar eerste boek, Celebrate: A Year of British Festivities for Family and Friends, het verlede jaar verskyn.